'n Hartlike wens vir 'n suksesvolle plantseisoen
Met die aanbreek van ‘n nuwe plantseisoen, wil ons ‘n opregte boodskap van aanmoediging en dankbaarheid aan al ons produsente rig. Julle is die hoeksteen van ons samelewing en ekonomie, en julle harde werk en toewyding verdien bewondering en erkenning.
Die uitdagings wat julle daagliks in die gesig staar, gaan nie ongesiens verby nie: die onsekerheid van die weer, die druk van hoë insetkostes en die druk op elke boer om beter oeste te lewer. Die komende plantseisoen is ‘n nuwe begin, om wéér te saai en hoopvol te wag op ‘n ryk oes. Elke saad wat gesaai word, is ‘n saad van hoop vir ‘n voorspoedige toekoms.
Die plantseisoen is ‘n tyd van harde werk, vroegoggende en laat aande, maar ook ‘n tyd van hoop en groei. Julle bied die gawe van voedsel aan die wêreld. Jul goeie landboupraktye verseker die toekoms en die bewaring van ons natuur. Ons waardeer julle opofferings opreg.
Ons erken ook met dankbaarheid elke familielid en elke werker wat julle drome ondersteun. Mag elke saad ontkiem en elke plant floreer. Mag die grond vrugbaar wees, julle toerusting betroubaar, en die weer gunstig. Mag julle hande en harte sterk wees. Mag julle geduld, toewyding en deernis geen perke ken nie. Mag julle elke dag vreugde ervaar.
Dankie dat julle altyd na mekaar en jul gemeenskappe omsien – julle ervaring en kennis deel. Dit is ‘n tyd van saamwerk en gemeenskap. Ons wil julle aanmoedig om hulp en ondersteuning te soek waar dit nodig is.
Ons wens julle ‘n veilige en voorspoedige plantseisoen toe.
Saam is ons sterker. Case IH staan bankvas agter julle.